Die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) is in 2000 gestig nadat die Wet op Veeverbetering (Wet Nr. 62 van 1998), aangekondig is. Die Wet stel genootskappe in staat om hul eie diere te registreer en prestasiedata van hul diere te stoor. Huidige lede van die LRF sluit in die Braford-, Brahman-, Brangus-, Holstein-, Limousin-, Simbra-, Simmentaler, die Namibiese Stoettelersvereniging en die Zimbabwe Herd book.
Die LRF dien as spreekbuis vir al hierdie genootskappe en registrerende owerhede. ‘n Kenmerkende eienskap van die LRF is dat die onafhanklikheid van elke genootskap, wat betref eie bestuur en funksionering, nie beïnvloed word deur LRF-lidmaatskap nie.
Die hoofdoel van die LRF is om sy lede wat as Registrerende Owerhede optree, te verenig, te bevorder en te beskerm. Die LRF bevorder ook die gebruik en toepassing van die nuutste tegnologieë in veeverbetering en dien as ‘n instelling vir die opleiding en bevordering van die veesektor. Alle LRF-lede maak tans gebruik van die Agricultural Business Research Institute (ABRI) (in Australië) se sagtewarepakket, insluitend hul internasionaal erkende lewendehawe registrasie sagteware, bekend as ILR2®, BREEDPLAN®, Internet Solutions® en HerdMASTER®.
ILR2 is die gekose registrasie sagteware van meer as 190 Rasgenootskappe wêreldwyd en bedien gesamentlik meer as 40 miljoen geregistreerde diere.
BREEDPLAN is tans die nasionale prestasiedatastelsel in Australië, Nieu-Seeland, Namibië, Thailand en die Filippyne en word toenemend gebruik in die Verenigde State, Kanada, Verenigde Koninkryk, Suidelike Afrika, Hongarye en Suid-Amerika.
Die LRF tree ook op as skakel en koördineerder tussen ABRI as diensverskaffer en die betrokke rasgenootskappe, veral ten opsigte van die ontwikkeling en toepassing van nuwe tegnologieë insluitende BreedLOGIC® en die opname en analisering van genomiese data.
Die LRF bied jaarliks die LRF Veeskool aan, ‘n toonaangewende opleidingsplatform vir meer as 200 bedryfsleiers oor wêreldwye veeteelt tendense en tegnologieë. Die LRF werk verder meer nou saam met universiteite om jaarliks ‘n geakkrediteerde Diereteelkursus aan te bied, ter bevordering van telersopleiding.
Om ‘n organisasie te wees waar alle deelnemende Genootskappe en Telers die nodige ondersteuning en inligting verkry ter ondersteuning van volhoubare genetiese verbetering in winsgewende kwaliteit beesvleisproduksie.
Om moderne genetiese tegnologie te benut, wat genetiese vooruitgang sal bevorder en ‘n hoogs winsgewende bedryf sal help skep vir almal wat deelneem.